Wednesday, November 25, 2015

Grafte en Groewe



Die spreekwoord lei:  "Die verskil tussen 'n graf en 'n groef is slegs die diepte".  Ek onthou nog toe ek klein was het ek in die grond met my karretjies gespeel.  Omdat ek op 'n plaas was, het ek nie net paaie gemaak nie, maar ook met spykers en draad kampies gespan.  Dan het ek met 'n stokkie sulke vloeigroewe in die grond gemaak sodat die water na die kampies kon loop sodat die beeste genoeg water in elke kamp het.  Daardie groefies in die sand is nie ongelooflik diep nie, maar die water kon nerens anders heen as in en saam met die groefies nie.  Daardie groefies is ook redelik permanent en dit vat vreeslik lank om toe te gaan.  As jy nou ook daagliks daaraan karring, dan gaan dit omtrent nooit weg nie, maar word net dieper en wyer.

Daar is seker niemand meer daar buite wat nie erens op facebook 'n profiel het nie.  Ek hou nogal van almal se kommentaar OOR facebook, want of jy nou daarvan hou of nie, ons is maar nuuskierig oor wat in ander se lewens gebeur.  Een ding wat ek duidelik agterkom is dat jy jou facebook vriende in sekere kategoriee kan verdeel.  Sekere mense post altyd dieselfde dinge.  So het jy jou "kettingbrief" mense wat se dat as jy vir Jesus liefhet, jy dit moet deel met ander.  Dan het jy jou "feetjies" wat sulke sagte-lens prentjies met krul woordjies post.  Dan het jy die "braggers" wat altyd erens op 'n eksotiese plek in check.  Jy het ook jou "kermgatte" wat oor alles 'n eiertjie te le het, van slaggate tot politiek.  Jy kry ook die "grapgatte" wat grappies en snaakse video's oplaai wat natuurlik altyd 'n mens se dag ophelder.  Jy kry die "ernstiges" wat een of ander missie het wat hulle op is om mense se denkwyses te verander.  So kan 'n mens aangaan, maar een diing is dat mense nie sommer verander nie, jy kan seker weet dat sekere mense sekere dinge altyd gaan doen, sonder om jou in die steek te laat.

Hoe meer grys hare ek bykry, hoe meer besef ek dat mense nie sommer verander nie.  Toe ek jonger was het ek geglo mense kan verander, en ja, dalk kon die boompies gebuig geword het toe hulle jonger was, maar deesdae nie meer nie.  Net soos ek my facebook vriende kan indeel in sekere kategoriee, kan ek dit in die regte lewe ook doen.  Dalk moet ek dit anders stel, en eerder se dat mense nie maklik verander nie.  Hulle is dalk nie gelukkig met hulle groefie nie, maar hulle het nie die krag, kennis of lus om daar uit te klim nie.  Daagliks raak ek bewus van mense wat dieselfde dinge oor en oor doen, maar die teenoorgestelde uitkoms verwag.  Jammer, maar die lewe kan nie so werk nie.  Daardie plaas-groefies wat ek gemaak het vir die water lei die hele tyd die water na presies dieselfde kampie, dit is nie wensdenkery nie, maar die waarheid – altyd.  Ek het absoluut geen probleem met mense wat hulle pad gevind het en gelukkig is daarmee nie, maar ek het 'n probleem wanneer mense nie in hulleself kan kyk en so bietjie afstand neem en die groefies van hulle lewens bestudeer en analiseer nie.  As jy nie gelukkig is met die pad en rigting van jou lewe nie, verander dit!  Ons kripeer in ons groefies en dan word ons kwaad vir die gravitasie wat keer dat die water ander kant toe loop as af onder toe.  Ons word kwaad vir die feit dat die water nie loop na die kampie van ons keuse nie, maar hoe kan dit as ek nie die pad daarvan verander nie?

Die ander ding wat ek ook agtergekom het, en mense eintlik logies moet verstaan is, hoe langer jy in jou groefie aangaan, hoe dieper en wyer word dit en hoe moeiliker word dit om die rigting daarvan te verander.  Natuurlik kan jy altyd dit verander, maar dit is tog logies om te verstaan dat dit moeiliker gaan wees.  Die water gaan altyd die dieper groefie opsoek, en eers wanneer die nuwe groefie geskep is, dan kan dinge begin verander. 

Die groot vraag is – Hoe doen mens dit?

NEEM EIENAARSKAP

Die oomblik wat jy eienaarskap vat van jou groefies en besef dit is jy wat dit geskep het en net jy kan dit verander kan daar 'n ander uitkoms wees.  Te veel keer gee ons ander mense en situasies die skuld vir "ons" issues.  Gaan kyk na hoeveel interpersoonlike probleme daar is waar ons baklei met mense oor dinge wat nie hulle probleem is nie, maar myne.  Hou op om jouself jammer te kry en te dink dat die gravitasie teen jou is, sekere dinge is vas, maar dit is jou groefies wat in 'n rigting loop, en dit is nie die water se skuld dat dit net eenvoudig in die rigting loop wat JY bepaal het nie. 

Ek glo vas dat elke mens verantwoordelik is vir sy eie dade en groewe.  Te veel keer maak ons ander mense verantwoordelik vir ons groewe, of wil ons ander se groewe VIR hulle verander.  Nie een van die twee aksies is logies nie.  Mense is hoe mense is, en ek het al soveel keer probeer om mense raad te gee oor hulle groewe en veranderings te maak, maar ek het geleer dat as iemand dit nie self wil of doen nie, al die gepraat in die lewe nie gaan help nie, al wil jy hoe graag help.  Mense kan jou vra hoe om dinge te doen, maar die verandering kom of in mense of nooit, en dit is nie my of jou werk om dit vir hulle te doen nie.  So kan ek jou vandag herinner aan dinge waarin jy verval het en wat jou nie pas nie, maar ek kan dit net op papier raad gee, of jy dit gaan verander of gebruik is nie my verantwoordelikheid nie.

NEEM BEHEER

Baie mense huldig die standpunt dat hulle nie werklik in beheer van hulle lewe is nie, en indien hulle dit sou doen, dan gaan hulle selfsugtig moet wees en op sekere mense se tone trap.  Ek gaan nou nie in diepte sielkundig hier raak nie, maar jy is die argitek van jou eie lewe.  As jy voel iemand beheer jou lewe, dan is dit omdat JY die beheer van jou lewe aan hulle oorhandig het.  Ons glo dat ons nie sommer net oor mense moet loop nie, en ja natuurlik moet jy respek vir ander huldig.  Maar jy kan net respek vir hulle en hulle punte huldig, wanneer dit nie jou reg om jouself te wees van jou ontneem nie.  Te veel keer gee ons maklik beheer weg, net om dan daardie persoon verantwoordelik te maak vir ons groewe en hulle moet dan deur hoepels spring om ONS gelukkig te hou. 

Vandag en in hierdie oomblik  verstaan dit duidelik dat niemand anders jou gaan leer om kitaar te speel nie.  Die lewe is dieselfde, JY en jy alleen moet beheer vat van elke stukkie daarvan.  Selfs al is jy in 'n onmoontlike situasie, JY het die keuse in watter mate jy gaan reageer en HOE jy gaan reageer teenoor omstandighede.  Soms is dit nie die omstandighede of diegene rondom ons wat ons manipuleer nie, maar die feit dat jy hulle in 'n manipulerende rol in jou lewe plaas.  Besef dit is JOU lewe en net jy ken jouself beter as enige iemand anders, jy het die reg om te bestaan.  So baie keer is ons bang om beheer van ons lewens en die pad van ons lewens te neem, omdat ons dink ons mag nie.  Erens het iemand vir jou gese dat ander mense eerste moet staan, hulle nukke en grille moet eers hanteer word voordat jy MAG 'n kansie kry.  As jy by 'n mini-sirkel gaan staan en vir almal plek voor jou gee, gaan jy tot in ewigheid daar by die sirkel staan en wag.  Net soos met 'n sirkel het jy ook die reg as mede-gebruiker van die pad om ook 'n beurt te kry.  Dit beteken gladnie dat jy net eenvoudig deur die sirkel moet jaag en almal se lewens in gevaar moet stel nie.  Die Bybel leer ons dat jy jou naaste moet liefhe, soos jouself.  Ek sien baie keer hoe mense wat met ander mense fout vind of blammeer vir hulle ongeluk juis mense is wat nie hulle selfliefde uitleef nie, en alles altyd afhanklik maak van ander se optredes.  Vat vandag beheer en hou op lui wees en almal om jou die skuld vir JOU groewe gee.

NEEM BESLUITE

Besluit om die situasie te verander en in 'n nuwe rigting te beweeg.  Soms weet ons dat dinge ons probleem is, maar ons is so besig en so diep daarin gewikkel, dat ons nooit die besluit neem om te verander nie.  Die ander rede hoekom mense nie verander nie, is dat hulle nooit dink dat daar ander opsies kan wees nie.  Hulle hou eerder aan met dieselfde patroon, al werk dit nie, want hulle dink daar is nie 'n alternatief nie.  Dalk moet jy wakker skrik en besef dat jy kan verander, daar is legio moontlikhede wat tot jou beskikking is, maar tot jy nie daarna soek nie, gaan dinge dieselfde bly.
Soms is die besluit drasties en moet jy eers begin deur wal te gooi.  Gaan sit rustig en analiseer jou lewe en kyk waar jy dinge kan verander en waar nie.  Jy kan byvoorbeeld nie besluit jy gaan eers 9.00 skool toe want jy wil later slaap nie, sekere dinge is net hoe dit is en jy kan dit nie verander nie.

Jy moet ook verstaan dat ons kreature van gewoonte is, en daar gaan altyd groewe en repiterende aksies in jou lewe wees.  Dit vraag waaroor jy kan besluit is of die groef jou dien of nie dien nie.  Die Bybel self leer ons dat as iets jou nie pas nie jy dit moet afsny.  Natuurlik is dit soms te drasties in sekere gevalle, maar in ander gevalle is drastiese afsny die enigste manier om dinge te wil verander.

NEEM AKSIE

Ek is ook 'n baie gelowige mens, maar ek is ook iemand wat weet dat die groefies van my nie sommer net een oggend magies anders gaan lyk nie.  Net soos hier bo, vat verantwoordelikheid vir dinge en neem aksie.  Ek hou van die voorbeeld van my oom wat in Nederland woon.  Hy is baie musikaal, en mense se altyd vir hom:  "Aai, ek wens ek kon ook klavier speel!"  Dan het hy 'n baie interresante aanmerking:  "Hoe lank dink jy gaan dit jou neem om te leer klavier speel?".  Die antwoord wissel gewoonlik van mens tot mens, maar vir die voorbeeld kom ons gebruik 5 jaar.  Dan se hy altyd:  "Ok, hoe oud gaan jy wees oor 5 jaar?"  En dan antwoord iemand se nou maar 52.  Dan kom die punchline: "As jy dus vandag begin met klavierlesse, gaan jy op 52 kan klavier speel, as jy nie vandag begin nie, gaan jy oor 5 jaar steeds 52 jaar oud wees, maar jy gaan nie klavier kan speel nie".

Dit is spesifiek hoekom ek onderskei tussen besluite en aksie neem.  Baie mense wens en wil en besluit om diinge te doen, maar hulle doen dit nooit.  Om nie aksie te neem nie is dalk ook 'n groefie waarin jy beweeg, en dalk is dit juis die eerste en belangrikste groef wat jy moet verander.  En moenie uitstel nie, begin vandag en neem aksie in die rigting van die kampie waar jy wil eindig.

NEEM AANHOUDENDE AKSIE

Daardie groefies wat ek in die sand gemaak het, het nie ontstaan met een krap van die stokkie nie, maar aanhoudende aksie van my kant af.  Ek het nodig gehad om keer op keer weer in die groefie te krap totdat die water reg geloop het na my sin.  Te veel keer begin ons dinge, maar ons hou nie aan met dit nie.  Kenners vertel ons dat dit 28 dae neem om 'n gewoonte aan te leer of af te leer, maar dit beteken dat ek elke dag dit moet doen.  Ek weet ek praat tot vervelens toe oor negatiwiteit, maar ek was in daardie groef van depressie oor my lewe en dinge wat nie reg loop nie.

Dit het my jare geneem om my ingesteldheid te verander en nou nog moet ek in die oggend my watertjies aankeer na die regte groefie toe.  Ek moet die res van my lewe daaraan spandeer, want omstandighede verander nie noodwendig nie.  Ek het gekies en soek bewustelik elke dag na die water in die halfvol glas.  Veral negatiewe mense om my word nou selfs vir my 'n inspirasie om al meer en meer positief te wees, want hulle herinner my aan die uitkoms van negatiwiteit.  Sodoende draai ek nou selfs die negatiewe wat ander aan my doen of in my bestaan inbring na 'n positiewe, al is dit soms nie maklik om dit te doen nie.
Dit is baie soos om jou maagspiere te oefen.  'n Pakkie van 6 gaan nie skielik wys na 1 of 2 dae se oefening nie.  Dit is iets wat daagliks moet doen en soms gaan jy nie die resultate onmiddelik kan sien nie, tot daardie een oggend wat jy in die spieel die verskil begin agterkom.


Gaan grawe jou eie groewe, dit is JOU speelgrond en God het jou al die toerusting gegee om voluit te kan leef.  Jy mag groewe he, maar gaan leef JOU groewe en moenie dat jyself of ander jou in groewe laat hardloop waarin jy nie wil of kan leef nie, want dan leef jy in 'n graf.

Wednesday, October 28, 2015

Die Duiwel se vatkans!

Van die begin van tyd het daar die idee bestaan dat daar in die wereld goed en sleg is.  Die goed word gewoonlik aan 'n Goddelike figuur toegeken, en die slegte aan die Bose, in watter vorm ookal.  In jou lewe kom jy ook soms oor die pad van dinge wat vir jou voel asof dit nie pas nie, dit wat nie vir jou werk nie, en dan noem ons dit ook maar boos.  Alle mense, selfs jy, word soms geteken as 'n wese met hierdie dualisme in jou, jou lig kant en jou donker kant.  Soms lees ons die storie van die twee honde wat in jou woon, die goed en die sleg, en die een wat jy die meeste voed is die een wat later die ander een ook opeet.


Ek wil nie nou in 'n teologiese diskussie verval oor die bose en in watter tipe vorm dit aanneem en of daar iets soos 'n hel is nie.  Ek glo egter soos hier bo dat ons elkeen die bose en die goeie in ons het en dat ons elke dag in elke situasie 'n keuse maak tussen die twee.  Hierdie dualisme in ons het ek al baie oor geskryf, en ook dat daar 'n "plek" vir die goeie en die slegte in die lewe is, want beide leer jou die lesse wat jy nodig het om te leer.


Daar is sekere dinge wat van kleins af by my vasgesteek het, en een daarvan is om nooit die bose 'n vatkans in jou lewe te gee nie.  Wat eerstens vir my beteken het dat daar in elke situasie van die lewe beide kante gaan wees, so, net soos met enige "afhanklikheid", le die eerste stap in die erkenning daarvan.  Saam met dit, het ek ook besef dat ek graag nie die "mag" in my lewe vir die bose of die negatiewe dinge wil gee nie.  Natuurlik gaan daar situasies wees waar jy dit kies, wetend of onwetend, maar oor die algemeen is ek die een wat graag die halwe deel van die water soek, en nie kerm oor die bose in my bestaan nie. 


Ek sien soveel mense om my elke dag, in my persoonlike lewe en ook in my werksomstandighede met kollega's en kliente, waar almal soveel makliker die keuse maak na die pessimisme en vrees.  En soos in my vorige blog oor dat jy nie aan jouself moet doen wat jy nie wil he ander aan jou moet doen nie, leer ek dat JY soms jou eie grootste vyand is.  Ek se gladnie daarmee dat daar nie realiteite is wat op jou lewe 'n invloed het nie, maar wel dat jy in elke situasie die keuse kan uitoefen oor hoe jy daarmee gaan handel.  En soms gee ons deur ons keuses aan die negatiewe en die bose 'n vatkans in ons lewens.  Ek het die laaste paar weke enorme issues met sekere dinge in my lewe wat nie reg loop nie, en so kom ek vanoggend 3 uur toe ek nog wakker le dat ek soveel spanning het en die bose die geleentheid gee om my nagrus op te foeter.


Jy sien, wat gebeur is die volgende.  Jy het 'n situasie in jou lewe wat plaasvind, of wat jy meeste van die kere "dink" gaan plaasvind.  Nou leef ons mos in die idee dat jy god van jou eie lewe is, en dat alles in jou lewe perfek moet uitwerk.  Maar nou neem die stemmetjie in jou kop oor wat jou laat dink dat dinge nie gaan uitwerk nie, en dan sneeubal die gedagtes in jou.  Vrees neem oor en jou keel trek toe en jou maag kramp.  Jy kom nie eers agter nie, maar kort voor lank is jy vasgevang in die mag van hierdie gedagtes, dat jy aan niks anders kan aandag gee nie.  So gaan dae en nagte by jou verby en jy leef al IN die drama wat nog nie eers plaasgevind het nie, of nooit SAL plaasvind nie.  Onthou, emosies word nie net spandeer en gevoel IN die situasie nie, maar selfs al dink jy daaraan.  Die Bybel leer ons die konsep, in die konteks van sonde, dat as ek selfs net iets "dink", dit is asof dit reeds plaasgevind het. 


Nou, drie dinge gebeur, jy spandeer AL jou energie aan die probleem eerder as die oplossing.  Die attitude van vrees en worry beteken nie dit gaan weggaan nie, die toets en die D-Dag is oppad.  Die vrees steel al jou energie en laat jou met verminderde krag om eerder effektief die situasie te hanteer.  Toe ek op skool was en atletiek gedoen het, kon ek soms nie die nag voor die tyd slaap nie, en daar in my blokke het my hande gebewe.  Die vraag is hoekom?  Dit was die vrees vir verloor en dat ek myself gaan teleurstel.  Nou, wat het die nag wakkerle my in die sak gebring?  Ek is nie goed uitgerus nie en my liggaam kan nie optimaal funksioneer nie, so, my vrees vir die resies het reeds al my energie gesteel, en my kanse om die resies te wen verminder.


Die tweede ding wat gebeur is dat dit die NOU steel van my.  Dit is nou nie kernfisika nie, maar jy leef NET in die nou.  Baie mense leef in die toekoms en dink aan more, of hulle lewe in die verlede en so vergeet hulle om vandag aan die rose te ruik.  Die Bybel leer ons ook dat jy jouself nie oor more moet bekommer nie, want dit sorg vir homself.  Nou hoor ek weer jou praktiese kant wat se dat jy tog nie jou kop in 'n gat kan druk en die toekoms moet afskryf nie.  Dit is baie waar, maar hier gaan dit nie oor dat jy nie aan more "dink" nie.  Die beste voorbeeld hier kry ons in die spel van Gholf.  Jy kom van die bof af waar jy die gaatjie begin, en ja, jou doelwit IS die setperk en om jou bal in die gaatjie te kry.  Jy begin nie NOU al vrees oor daardie moeiike setperk nie, jy dink en het beheer EERS oor hierdie hou wat jy nou speel.  Jou doelwit bly dieselfde, maar die vrees vir die toekomstige hou neem jou fokus weg en lei daartoe dat jy meer kere HIERDIE hou van NOU laat misluk.  En as jy hierdie hou laat misluk, dan bou die druk soveel meer op daardie laaste set om die bal in die gaatjie te slaan.  Dieselfde geld vir die fokus op die vorige hou of gaatjie se mislukking of sukses, dit neem emosioneel oor, want gedane sake het nie keer nie.  Al wat belangrik is is hierdie oomblik waarin jy leef.  Waar jy vandaan kom en wat jou doelwit is bly dieselfde.


Die derde ding is dat ons leer in die Bybel van die bose wat se dat dit rondloop soos 'n brullende leeu.  Wat dit beteken, is dat hierdie negatiewe gedagtes NET so moeilik is om toe te pas as positiewes.  Maar hierdie bose dinge soos vrees en pessimisme kom na jou toe soos 'n roofdier, kort voor lank is jy in 'n hoek gedryf, want jy het dit nie verwag nie.  Geen mens gaan soek na die negatiewe per se in die lewe nie, dit SOEK jou.  En soms, net soos met roofdiere, word die swakstes onder ons eerste gevang.  Het jy al agtergekom dat die gevoelens van negatiwiteit en vrees gewoonlik kom wanneer jy op jou swakste is?  Dit is wanneer jy die donker hond in jou meer voer as die ligte een, dan gaan dit oorneem en sterker wees, en kort voor lank is die ligte kant van jou so hulpeloos dat dit gaan le of sommer net op die plek vrek.


Dit behoort ook nie kernfisika vir jou te wees nie, maar die realiteit hardloop nie weg nie.  Baie suksesvolle mense  se graag dat hulle nie fokus op die probleem nie, maar soek na die oplossings daarvan.  Meeste situasies wat jou laat vrees het aksie nodig en saam met aksie goeie uitgewerkte planne.  Hoe meer jy beplan en nugter kan dink, hoe meer bring jy die situasie onder beheer.  As jy die bose 'n vatkans gee in jou lewe, steel dit "spasie" in jou brein.  Staan op, gaan sit by 'n stuk papier met 'n pen en beplan HOE om die situasie te hanteer en soek vandag na oplossings, eerder as om onvoorbereid met vrees BY die situasie uit te kom en te besef dat jy dalk tien teen een, as jy nugter en objektief kon dink, 'n maklike oplossing kon gevind het.


Die laaste punt wat ek jou mee los vanoggend is, 99% van al jou vrese word nooit waar nie, die ander een persent is beslis, en dit kom gewoonlik wanneer jy nie soek na oplossings nie, en 99% van dit wat jy vrees kan opgelos word met eenvoudige en nugtere beplanning.  Mense gaan deur hulle lewe met pessimisme en 'n gemoed van opgee teenoor die druk van vrees, en sodoende mis hulle elke wonderlike geleentheid om te lag in vandag.  Moenie aan hierdie negatiewe emosies die mag gee nie, slaan dit op hok soos 'n wilde leeu.  Weet en besef dat al hierdie denke jou gaan kom soek, dalk deur 'n gesprek van iemand of 'n whatsapp of tyding wat jy oor die foon ontvang.  Dit gaan jou kom soek, maar onthou altyd, die leeu "bekruip" jou nie, hy brul, so let op en besef waar en wanneer hy beplan om toe te slaan.



Tuesday, October 27, 2015

Die mag van die gewoonte


Ons het sulke nuwe generasie hysbakke by ons gebou.  Jy druk die nommer van die vloer waarheen jy wil gaan aan die buitekant van die hysbak.  Die hysbak wys dan buitekant vir jou die hysbak wat jy moet gebruik, A, B of C.  Nou, soos julle kan dink is dit 'n vreeslike groot aanpassing vir mense, veral omdat die sekuriteit nie vir besoekers vertel hoe die hysbakke werk nie.  Daar is 'n verskeidenheid van maatskappye wat kantore in die gebou het, o.a. ook 'n konsulaat waar mense vir hulle visums kom aansoek doen.  Dit is baie interresant hoe mense sommer net in die eerste en beste hysbak klim, omdat hulle gewoond is daaraan.  Ek moet ook noem dat daar geen knoppies aan die binnekant van die hysbak is nie, so as jy in een geklim het, moet jy eers klaar ry tot op die vloer waar die hysbak voor geroep is voordat jy kan uitklim om 'n ander vloer te kies.


Ek vind dit ongelooflik insiggewend hoe mense sommer net in die hysbak klim, en dan met verbasing agterkom dat hulle nie 'n keuse het aan die binnekant nie.  Ons is so vasgevang in die mag van die gewoonte van in die eerste hysbak inklim en daar binne ons keuse uitoefen, dat mense nie oplet nie.  Ek vang myself natuurlik dat ek die hysbak bestel aan die buitekant, maar nooit kyk of ek in A, B of C moet klim nie.  Telkemale maak die hysbak so vinnig toe dat ek nie in tyd is nie, en dan moet ek dit weer bestel wat natuurlik baie tyd neem.


Dit laat my wonder hoeveel sulke dinge ons in ons lewens outomaties aangeleer het, wat dit vir ons moeilik maak om te bereik wat ons wil?  Dit is een van daardie ou gesegdes van Einstein wat gese het:  "The definition of insanity is doing the same thing over and over again, and expecting a different outcome".  En dalk is ons ongelukkigheid dalk eerder gekoppel aan 'n nuwe hysbak met nuwe aanwysings, maar ons kom telkemale op die verkeerde vloer uit, met rooi gesig en skaamte en rigtingloos, omdat ons nie oplet nie, en omdat ons nie aanwysings het nie.  Ons verval soms so in ons eie manier van doen, dat die gewoonte oor ons 'n "mag" begin uitoefen.  Ek sien daagliks mense om my wat hulle patrone, werkend of nie-werkend toepas, maar hulle verwagtinge is dat hulle 'n ander lewe soek.


Die hysbak het my nou oor en oor geleer, ons hou nie altyd van verandering nie, en daarom klim ons soms net op enige hysbak, sonder om twee keer te dink.  Ons kom baie keer in die moeilikheid in ons lewe, want ons "verwag" net dat dinge op dieselfde manier moet werk as wat dit nog altyd gewerk het.  Ons ondervinding behoort ons ook te leer dat dit nie die geval is nie.  Een van die grootste kontante is verandering.  Verandering en nuwe maniere is deel van ons lewe, en selfs ook om by dieselfde vloer uit te kom, verg daagliks van ons om op 'n nuwe of ander manier daar uit te kom.  Dit is nie altyd in ons beheer nie, en daarom moet ons elke oomblik van ons lewens bewus te wees van wat rondom ons gebeur.


In die hysbak het ek al telkemale gehoor hoe mense redeneer of die sisteem nou simpel of oulik is.  Dalk spandeer ons te veel tyd om te filosofeer oor dinge wat ons nie kan verander nie.  Die lewe is so, as ek per hysbak wil ry na waar ek wil wees in 'n gebou, dan moet EK aanpas en ophou verwag dat dinge by my moet aanpas.  Dit is ook 'n gewoonte wat ons aangeleer het, om graag te soek dat dinge ons in die lewe pas.  Ek dink ook nie die ontwerper van die hysbak het opsetlik probeer om JOU uit te haal of die lewe vir JOU per se moeilik te maak nie.  Gary Player het mos altyd gese:  "Play the course as it is and not as you would like it to be".  Breek die mag van DIE gewoonte by jou om dinge altyd in JOU guns te soek, want wat vat dit nou van jou om te konformeer aan die lewe en uitdagings wat aan jou gestel is? 


Dalk moet jy eerder dink aan hoe oulik die nuwe hysbak is, en dat jy volgende keer as jy by 'n soortgelyke hysbak kom, ander kan help om by hulle vloer sonder moeite of frustrasie uit te kom.  Dalk moet jy dink dat daar 'n oulike rede kan wees hoekom die hysbak op die manier werk en dat dit jou eintlik baie tyd spaar, want die hysbak in NET daar vir jou en jou vloer.  Jy het nie nodig om op elke vloer te stop en te kyk of te wonder waar jy is nie, dit is doelgerig. 


Die mag van die gewoonte kan soms jou lewe totaal ondraaglik maak, of dit kan jou lewe gemakliker maak.  Dit is menslik om nie van verandering te hou nie, want dit laat ons onseker.  Deesdae, as jy nie verandering omarm nie, gaan jy 'n moeilikheid ondervind.  Ek verwys altyd na my ma wat in haar 70's is en hoe sy tegnologie aangryp.  Sy het 'n smartphone en sy weet hoe dit werk, want sy het besef dat whatsapp en die ander funksies haar lewe makliker en beter maak.  Ander ouens is nog vas aan hulle Nokia 2110i wat hy met 'n beltknippie aan sy sy dra, en vertel vir jou dat hy net wil bel en sms.  Dit is SY keuse, en daarmee het ek geen probleem nie, maar as jy eers besef dat jy 'n sms makliker met 'n tasskerm kan stuur waar jy nie die getalleknoppie oor en oor moet druk nie, sien jy die nut daarvan in om tog jou gewoonte te breek.


In ons persoonlike lewens hou ons ook van patrone en resepte.  Ek sien soveel mense wat so vasgevang is in hulle ongeluk en hartseer, en maar eerder daarby bly as om aanpassings te maak.  Ek dink dat as jy weier om te verander, en jou voet neersit dat jy die hysbak se knoppies aan die binnekant wil druk, jy welkom is om dit te doen.  Jy kan in elke hysbak spring en vir almal vertel hoe simpel die sisteem vir jou is, en dalk kom jy toevallig op die vloer uit waar jy wil wees.  Maar se nou maar niemand gaan vandag na vloer 3 toe nie, of hulle ry dalk nie met die hysbak wat jy kies nie?  Dan gaan jy baie gefrustreerd raak met jou situasie, en jy gaan naderhand almal om jou en jou ander passasiers en die eienaar van die gebou blammeer vir die feit dat jou lewe nie uitloop soos dit moet nie. 

Vandag is die dag wat jy, en ek bedoel nou nie drasties nie, die vryheid het om jou situasie te verander.  Ek praat baie daaroor, en mense dink ek is vreemd, maar ek het my denkwyse omgedraai.  Ek het aangeleer om dinge op 'n ander manier te doen, en daardeur nie noodwendig my doelwitte en drome op my maag geskryf nie.  Ek het ook nie noodwendig nodig om myself 'n breinoorplanting te gee nie, ek kom steeds op dieselfde plekke uit waar ek wil wees, maar deur die gewoonte van hoe ek daar wou uitkom te breek, het ek aangepas en kom ek vinniger by my vloer uit. 


Dalk is jy vandag ongelukkig of hartseer of depressief, ek weet nie wat jou situasie is nie.  Gaan sit 'n oomblik stil en gaan vra jouself of jy nie so onaanpasbaar is en dalk so voel omdat jy sinneloos soek na die hysbak wat werk soos JY aan gewoond is nie?  Miskien is jy so oorweldig deur dinge om jou, dat jy nie fokus op die geleenthede om die lesse te leer van hoe die nuwe sisteem werk nie.  Dalk is jy ook te skaam om vir ander te vra HOE hulle funksioneer in die sisteem.  Dalk is jou opsie om rond te kyk en as daar niemand is om te vra nie, jouself so bietjie fiks te maak en die trappe te vat, want wie het nou gese jy MOET die hysbak neem.


Moenie in die lewe die LEWE uitdaag en blammeer nie, dalk moet jy die MAG wat jou gewoontes oor jou het breek en as jy blaam moet plaas, DIT blammeer vir hoe jou lewe uitwerk.


Gaan lewe in kursief gedrukte letters vandag!  As iets nie werk nie, gaan doen dit anders!



Confidentiality
The e-mail and attachments are confidential and intended only for selected recipients. If you have received it in error, you may not in any way disclose or rely on the contents. You may not keep, copy or distribute the e-mail. Should you receive it, immediately notify the sender of the error and delete the e-mail. Also note that this form of communication is not secure, it can be intercepted, and may not necessarily be free of errors and viruses in spite of reasonable efforts to secure this medium. Any views and opinions expressed herein may not necessarily be those of the Liberty group of companies. The aforementioned does not accept any liability for any damage, loss or expense arising from this communication and/or from accessing any attachment.
libdisc25112014

Monday, October 26, 2015

Moenie aan jouself doen wat jy nie wil he ander aan jou moet doen nie!

Daar gebeur baie dinge met ons elke dag, dinge wat ons dalk van hou en dinge wat ons dalk minder van hou.  Baie van daardie dinge kan ons nie beheer nie, soos die verkeer of iemand anders se optrede teenoor ons.  Maar soms vind ek dit by myself dat ek my eie grootste vyand is.  En dit is nogal hartseer dat 'n mens jouself so kasty en pynig. 


Van kleins af praat mense van die term "selfbeeld", en dat jy vir jouself 'n positiewe denke oor jouself moet ontwikkel.  Deur die jare is dit soms die "mislukkings" wat ons beeld van onsself skaad, en naderhand glo jy dat JY 'n mislukking is.  Jy glo naderhand niks goed meer oor jouself nie.  En dan begin daar 'n bose kringloop waar jy met hoe minder en minder selfvertroue leef.  Dit gaan al slegter met jou selfbeeld, totdat jy amper wil moed opgee en niks meer goed van jouself dink nie.  In die oggend staan jy op met 'n negatiewe houding, en naderhand gun jy niks meer vir jouself nie.  Jy begin amper dink dat die lewe JOU iets skuld, en in dieselfde asem het jy amper die gevoel dat die wereld iets teen JOU het, want niks in jou lewe werk mooi uit nie.  Dag na dag koester jy van hierdie denke, veral wanneer dinge nie jou rigting gaan nie, en dan kry jy al die bewyse vir jou denke.  En so word jy daagliks ingetrek, dieper en dieper in die kolkgat van depressie.


Sommige mense in depressie bevind hulle vinnig en maklik in hierdie posisie.  Dan is dit dalk ook nie eers meer die mense of omstandighede om jou wat jou aftrek nie, maar jyself.  Nog voor jy met enige ding begin, glo jy al klaar dat dit nie gaan werk nie.   Jy maak nie meer 'n weddenskap op jouself nie, want jy verloor nog voor jy begin het.  Dan word dit 'n ongelooflike gevaarlike situasie, want dan voel jy absoluut 'n mislukking, wil niks meer aanpak nie. 


Interresant is weereens, jou gevoel van mislukking het wel uit te waai met situasies waarin jy soos 'n mislukking gevoel het, maar het meer uit te waai met jou reaksie op die situasie wat plaasgevind het.  Jy vergeet soms dat JY altyd 'n keuse het in HOE jy op situasies gaan reageer, alhoewel jy nie altyd kan beheer WAT met jou gaan gebeur nie.  Daar is soveel sosiale eksperimente op tweelinge gedoen wat vir ons bewys dat alhoewel 2 mense geneties amper dieselfde is, en aan dieselfde omstandighede blootgestel word, verskillende reaksies daarop kan toon.  So in die eerste plek, dit is nie altyd die omstandighede wat die skuld moet kry nie, dit is dalk meer die manier HOE jy dit toelaat om jou te beinvloed.

In die opskrif van hierdie stuk se ek dat jy jouself moet hanteer soos jy graag wil he ander mense jou moet hanteer.   Dit is duidelik al bewys, dat jy nie van ander kan verwag om jou op 'n sekere manier te hanteer indien jy jouself nie op dieselfde manier EERS hanteer nie.  Soms is daardie negatiewe binnestemmetjie van jou jou grootste vyand, en nie die mense om jou of jou omstandighede nie.  Dit is jy wat aan jouself grense stel.  Natuurlik mag jy glo aan jou beperkings, maar onthou dit is net jy wat dit beheer en bestuur.


So, dit wat jy voel wat ander aan jou doen en jy nie van hou nie, gaan in jou glashuis in en vra jouself af of dit nie maar net 'n spieelbeeld is van wat jy van jouself dink en wat jy aan jouself doen nie.  Dit is soms ons self en niks en niemand buite ons wat ons glashuis laat breek nie. 


Die antwoord is op die ou einde om die mooi in jouself te gaan herontdek.  Dit is dalk 'n goeie tyd om jou hand in eie boesem te steek en te kyk hoe jy met jouself omgaan en ophou om die wereld om jou die skuld vir jou eie ongeluk te gee. 


Dalk is dit juis die dag om jouself met so 'n klein bietjie deernis te hanteer.  Onthou, die oefening is nie dat jy jouself nou nog meer moet jammer kry of om 'n klomp verskonings te maak vir dinge nie.  Onthou, dit gaan hier oor die konsep dat jy nie van ander kan verwag om jou op 'n sekere manier te hanteer indien jy nie eers bereid is om dit self te doen nie.


Geniet die week, en gaan wees mooi met jouself!

Monday, October 5, 2015

Soek die mooi in alles

Ek het nog altyd geglo dat mense inherent goed is en in hulleself mooi is.  Dit is ons ervaring en omstandighede wat ons soms dwing in 'n ander rigting as wat ons graag wil.  Ek moet ongelukkig verstaan dat die Bybel 'n ander standpunt huldig, en vir ons se dat ons in sonde ontvang en gebore is.  Ek het die voorreg gehad om 4 van my eie kindertjies se geboortes te aanskou, en as jy daardie eerste oomblik van geboorte sien, kan jy onmoontlik dink dat daardie 'n sondige wesentjie is.

Ek gaan myself nie nou verstout om met die Teoloe te stry daaroor nie, maar in my kop is ons skepsels van God en nie van die wereld nie.  Ons is in liefde ontvang en gebore, dit is die wereld om ons wat ons deur ondervinding die slegte en stoute dinge leer.  Ek stem wel dat daar 'n skadukant in ons elkeen is, en dat ons wel deur God geskep is met die vrye wil om te kies welke kan ons in die lewe gaan kies. 

Wanneer ek so op Facebook rondblaai, verwys mense graag na al die "morone" en simpel mense om hulle.  Soms is mense sarkasties, maar ek kry die idee dat ons soms wel dink dat almal om ons simpel en stupid is, en ons die enigstes is wat die mag en pag het om die "normale" bordjie om ons nekke te hang.  My lewe het verander die oomblik wat ek probeer het om die mooi in ander raak te sien.  Jou ingesteldheid oor die wereld verander die oomblik wat jy eerder begin om die mooi in ander te soek, eerder as die slegte.  Wanneer jy daardie deernis van Jesus aanleer, gebeur iets wonderliks in jou lewe.  Skielik is jy nie besig om stokke te soek om ander mee te kasty nie, maar met 'n liefdevolle hart plavei jy vir mense 'n pad om gelukkig en hulleself te kan wees. 

Vir lank het ek, in my eie lewe, probeer om dinge en mense te druk in die rigting van perfeksie.  Ek wou hulle in kassies indwing om sodoende te word wat ek van hulle gesoek het.  Ek dank die Vader dat ek deur baie pyn en leiding wel die les geleer het om te laat gaan.  Mense om my verstaan dit nie altyd nie, en sien dit as 'n swakheid, maar dit is juis waar ek dink volmaakte geluk en wasdom van afhang.  Om sag en met deernis te leef IS ons roeping, en dit IS ons Godgegewe gawe om uit te leef.  Jesus het vir ons 'n fantastiese voorbeeld gestel om nie altyd almal te veroordeel nie.  Jesus is veroordeel omdat hy met sekere mense in die samelewing moeite gedoen het.  Dit is die grootste boosheid van menswees om altyd ander te veroordeel.  Niemand is perfek nie, almal het foute, maar almal het ook skoonheid in hulle.  Dit beteken nie dat ek my kop in 'n gat druk en summier dink dat alles in die lewe om my perfek is nie, inteendeel.  Wat ek wel glo is dat almal die reg op lewe en asem het, en natuurlik raak ons ongelukkig as ander ons reg op lewe ontneem.

My standpunt daaroor is mooi uiteengesit in my blog oor Be-oordeel en Ver-oordeel.  In kort beteken dit dat ek wel standpunt mag inneem oor mense en dinge om my, maar dat ek nooit die mens mag veroordeel nie.  Ek mag my idees huldig, maar ek mag nooit dink dat ek die enigste is wat reg is en almal moet na my pype dans nie.  Die Bybel leer ons beslis dat ons nie mag oordeel nie, want ons sal in dieselfde lig ge-oordeel word.  Die spreekwoord lei ook mos dat mense wat in glashuise bly nie met klippe moet gooi nie, en dat jy die balk eers uit jou eie oog moet haal, voor jy fokus op die splinter in ander se oe.
In dieselfde opsig, soek die mooi in jou en bou dit uit.  Hou op om verskoning te maak vir wie en wat jy is.  Jy is dalk sag en emosioneel, of watter persoonlikheidseienskap jy ookal uitleef.  Soek die mooi in jouself vandag en gaan leef dit uit.  Hou op om vandag so hard op jouself eerstens te wees, en tweedens op mense om jou.  Soek die mooi om jou en in jouself.  Vind vrede by jou mooi dinge, en hou op om tevergeefs vir die res van jou lewe jou skadukant te beveg. 

In die "law of attraction" leer ons dat jou brein net op een ding op 'n slag kan fokus, maar ook dat jou brein nie kan onderskei of dit wat hom gevoer word waar of vals, goed of boos is nie.  Dit werk amper soos met 'n rekenaar wat nie oordeel wat jy op hom skryf of doen nie, maar slegs uitvoer wat die opdrag is.  Indien ek dus nou daagliks op my negatiewe dinge fokus, of die van ander, vermenigvuldig dit gewoonlik.  Dit kry kleintjies in jou kop, en daarom moet 'n ou die paring van energie en negatiwiteit onmiddelik stop.  'n Vrou vertel nou die dag vir my al die dinge wat haar man verkeerd doen, en lag toe effens vir haarself, dat sy stemtoon haar ook nou begin irriteer.  Op dieselfde manier, as jy fokus op die mooi in jou en ander mense, dan gaan die mooi ook vermeerder. Dit is dieselfde konsep wat aan die werk is in ons koppe. 

Ek vertel altyd die storie dat 'n klomp mans so bymekaar sit en oor hulle vrouens en huwelike begin praat.  Dit is mos amper mode om die ander geslag af te kraak, en dan hoor jy nie net die waarheid nie, maar ook die stigmas wat ons aan die ander geslag toedeel.  Kort voor lank word jy so ingetrek by die situasie dat jy sommer vir JOU vrou ook kwaad is.  Wanneer dit by ons kinders kom, is ons vreeslik ingestel op die feit dat hulle nie aan negatiewe dinge blootgestel moet word nie.  Maar doen ons dieselfde met onsself?  In watter mate stel jy jouself bloot aan negatiwiteit en swak invloede?  In die rekenaar wereld praat hulle van "garbage in, garbage out" en ons breine werk presies dieselfde. 

Nee man, kom ons begin ons wereld verander deur meer sagkuns met onsself en mense om ons om te gaan.  Dit beteken nie dat jy moet kondoneer wat mense doen nie, maar jy kan tog eerder op die vreeslik baie mooi in jou en die mooi in ander mense fokus.  Net omdat iemand anders iets "negatiefs" doen, het jy steeds die keuse om nie toe te laat dat dit jou beinvloed of nie.  Die lig het nog altyd die duisternis oorweldig, maar jy moet die lig se skakelaar aansit.  Dalk moet jy en ek vandag die lig in onsself, in ons lewensmaat, in ons kinders, in kollega's en in almal om ons soek.  Dink net wat sal gebeur as almal vandag net vir een persoon iets positiefs toedig van wat hulle in die lewe is.   

Kom ons begin by vandag en vir die res van ons lewens, en kom ons gee elke dag vir elke mens om ons net 1 kompliment, en kom ons verander die wereld waarin ons leef op die manier, want kritiek verander niks nie.
Hoop jou week is fantasties!!!!

Wednesday, September 30, 2015

Limiet-loos

In die film met dieselfde naam sien ons vir Bradley Cooper wat 'n magiese pilletjie ontdek wat wondere vir sy brein doen.  Skielik is hy heeltyd energiek en wakker.  Hy kan tonne informasie op dieselfde oomblik hanteer en verwerk.  Hy beindruk almal om hom met sy vibrasie en almal dink hy kan alles doen, en hyself ook.  Hy is wakker.

Wanneer ons kinders is of kinders grootmaak, dink ons dat ons alles kan doen.  Jy dink ook sommer dat jou pa ook Hulk is en die sterkste man in die wereld is.  Jy dink jou ma is die wonderwerker in die kombuis, en niemand kan jou seer geskaafde knie behandel soos sy nie.  Jy dink die wereld van die wereld, en jy dink alles is moontlik.

Soos jy ouer word, dink jy nie meer so nie.  Op skool sien jy outjies wat vinniger is as jy op die atletiekveld.  Jy kry te doen met 'n blonde meisie met vlegsels wat jou ore aansit in wiskunde.  Jy sien ander mense se ouers, en daai pa van jou maatjie se muscles is groter as jou pa s'n.  Jy begin interpersoonlike krisisse met maatjies optel.  Stadig maar seker glo jy nie meer dat jy "limitless" is nie.  So begin jy kampies en hokkies skep waar jy kan funksioneer, en vermy die plekke waar jy dink jy nie kan funksioneer nie. 

Soos jy nog ouer word, word hierdie situasie vererger deur meer en meer situasies om jou.  Jy ontmoet al meer en meer mense om jou wat "beter" as jy presteer.  Jy kom agter dat jy ouer word en jou liggaam nie meer die dinge kan doen soos in jou 20's nie.  Jy kom al meer in aanraking met hartseer situasies en verhoudings wat opbreek, en hou jy naderhand op om te glo in ware liefde.  Jy kry kinders en alhoewel jy aan die begin glo dat hulle "limitless" is, besef jy al hoe meer dat hulle maar ook nie is nie.  Jy begin hulle beskerm en oppas en keer dat hulle seerkry en kanse vat waarin hulle hulle beperkinge kan ken.  En sonder meer dra JY ook by tot hulle kassies van kan en nie kan nie.  Jy begin hulle leer dat daar 'n woord bestaan soos "onmoontlik" of "onwerklik" of "onrealisties". 

Dan, soos almal van ons wat ouers het wat bo 70 is, sien jy dat hoe ouer jy word, jou geleenthede al hoe meer verminder.  Jy kan later nie eers meer lekker loop nie, en jou rug en kniee gee in.  Jy begin totaal buite beheer voel en al meer en meer kassies in jou lewe se deure word gesluit.  Jy kan nie eers jou kleinkinders behoorlik optel sonder pyn nie.  Jy sien hoe meer en meer mense om jou, van jou ouderdom, siektes en kwale kry wat al hoe meer en meer bydra tot jou vrees oor jou eie toekoms.  En sodoende voel jy "bewusteloos" en sonder enige hoop.  Jy is soos iemand wat niks nuuts meer wil aanpak nie, of jy nou wil of nie, kan of nie kan nie.  En so word ouderdom 'n nuwe tronk wat jou herinner dat jy NIE limitless is nie.

Die Bybel vertel ons dat as ons die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons berge sou kon versit.  Wat dit beteken is dat jy geskep is om "limitless" te leef.  Jy is nie gemaak om op hierdie speelgrond van God voor die tyd moed op te gee nie.  Wat maak dit nou werklik saak of jy die vinnigste is, jy kan steeds hardloop.  Wat maak dit saak dat jy nie professioneel kan dans nie, jy kan steeds dans.

Jy sien, ons voel en leef "limitless", omdat ons ons laat beinvloed deur ander mense en situasies van buitekant.  Ons "kompetisie" met ander laat ons voel asof ons nie goed genoeg is nie en nie dinge kan doen nie.  Ons laat omstandighede en mense om ons toe om al ons potensiaal en geloof in onsself te steel.  Ons gee alles en almal om ons die mag om VIR ons te besluit wat ons kan en nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat daar nie iemand slimmer, ouliker en vinniger as ek is nie, natuurlik nie.  Dit beteken net dat ek nie moet opgee in die lewe omdat ek bang is iemand is beter as ek in 'n ding nie.  Vra jouself af wat jy in jou lewe sou vermag het as jy nie toegelaat het dat jy jouself met ander mense vergelyk nie.  Wat sou jou attitude teenoor jouself gewees het as jy kon trots wees op wie jy IS en nie op wie jy is in vergelyking met ander mense of dinge nie?  Hoe sou jou lewe uitgedraai het as jy bly glo het in jou "limitless"?

Die woord se vir ons alles, want dit bestaan uit 2 dele, "limit" en "less".  Ek dink die lewe begin wanneer jy jou kassies afbreek en jou horisonne verbreed.  Die oomblik wat jy verstaan dat jy en jy alleen die limiete op jouself en jou vermoens plaas, niemand anders nie.  Dit is JY wat die omstandighede om jou MAG gee en dit is jy wat opgee nog voor jy probeer het.  Dit is JOU denke wat dink dat jy nie berge kan versit nie.  Dit is JY wat jouself teen Usain Bolt stel en besluit JY gaan nie hardloop nie, want jy sal nooit so vinnig soos hy wees nie.  Nogal interresant dat hulle op skool vir ons geleer het dat ons eintlik almal wenners is, want ons het deelgeneem.  Daar sal altyd iemand beter as jy wees in 'n item, maar dit beteken nie jy moet ophou lewe nie.  As dit vir jou gaan om die beste te wees, altyd die hero te wees, is dit dalk eerder jou limiet.  Jy hoef nie die hero te wees en die goue medalje te verower om die lewe te geniet nie. 

Wanneer jy die grense van jou vermoens begin afbreek, dan leef jy.  Wanneer jy besef dat JY kan kies hoe jy wil lewe en wat jy wil doen, dan staan niks in jou pad nie.  Natuurlik staan jou talent dalk in die pad dat jy nie die beste kunstenaar in die wereld is nie, maar beteken nie dat jy nie jou stokmannetjies op 'n doek in jou huis kan raam nie.  Kinders teken hulle waterverf prentjies en ons hang dit met magnete op die yskas, en soms is daardie verwronge rooi, geel en blou huisie vir ons en ons kinders meer werd as die Picasso wat in die sitkamer hang. 

Mense vra my baie keer hoe ek so positief oor die lewe kan bly, want ek het blykbaar soveel hardship deurgegaan.  Vir my is dit eenvoudig, want ek LEEF.  Ek huil natuurlik wanneer dinge nie uitwerk soos ek graag wou nie, maar ek glo dat alles moontlik is.  Ons se dit so baie maar wat ander van jou dink is natuurlik belangrik, maar as jy niks van jouself dink nie, of glo dat alles moontlik is nie, sal niks wees nie.  Dan verloor jy nog voor jy begin het.  En as jou geluk afhang van omstandighede en besittings en allerhande dinge buite jou, sal jy nooit geluk ervaar nie.

Die vraag is vandag, wat laat jy toe in jou lewe om jou in te perk?  Wie en wat gee jy die mag om jou in kassies te sit en jou lewe te bepaal?  Die Bybel leer ons 'n belangrike les in die verband, naamlik, as iets jou pla, sny dit af.  Ons dra soveel baggasie saam van dinge wat gladnie eers relevant is nie, en al hierdie dinge hou ons terug.  Vandag is 'n dag in my lewe wat ek NIE volspoed kan hardloop vir my ideale nie, dit is 'n dag wat maklik kon ontaard het in 'n selfbejammering, maar ek weier volstrek om iets of iemand die mag te gee om oor MY geluk, MY toekoms te besluit en limiete te stel aan wat EK kan vermag. 

En ten slotte, jy kan enige iets vermag, maar dit moet vir jouself wees, nie vir ander of om iemand te beindruk nie.  Wanneer jy opreg jou lewe jaag, jouself vry maak van alles en almal wat jou lewe kan beperk, DIT is die sin van die lewe.  Dit is die wonderlikste gevoel in my lewe wat ek vir julle almal toewens, om op te hou om jouself te beperk, en jouself LESS te LiMIT.  Gaan GROOT!!!

Friday, September 25, 2015

Reg voor jou ogies!

So 'n ruk gelede is my kar gesteel, en saam met dit my redelike nuwe laptop.  Ek gebruik nou 'n ander een, wat soos gewoonlik nie sy instruksie boekie byderhand het nie.  Oor die afgelope paar weke het ek ook opleiding gehad, en my totaal en al frustreer omdat ek weet die rekenaar het 'n wireless ingebou, maar hy wys die heeltyd dat die draadloos ongedaan gemaak is.  Ek soek en ek soek en ek is op control panel en op die internet.  Uiteindelik wip ek vanmiddag my agterstewe en gaan youtube die model van HP om te kyk hoe om die draadloos aan te skakel.

Tot my verbasing en eintlike skaamheid, kom ek toe agter dat hier aan die voorkant so 'n knoppie is wat jy van lings na regs kan skuif om die draadloos aan te skakel.  En toe ek dit klaar gedoen het, sien ek daar staan net so links van die roetekoersgewer, die woord "wireless".  Genade, hoe dom en hoe onkapabel voel ek nie toe nie.  Dit was nou werklik 2 weke wat ek met die frustrasie sit.  Sien, ek het nou die ou skootrekenaar op en onderstebo gedraai, want oom google se dat daar 'n knoppie is,  wat ek toe tot by die kragkabel soek.  Ek was nou al amper reg om Hewlett Packard se direksie in China te gaan soek en te dagvaar oor die feit dat hulle wanvoorstelling gepleeg het.  Nou is ek skaam en jammer aan Ching Chong Chaai erens in China wat ek so gevloek het.

Soms is die antwoord nie kernfisika nie, maar staan dit duidelik voor ons ogies geskryf.  Soms maak ons so 'n groot bohaai van dinge en ruk dinge uit verband wat eintlik eenvoudig is.  Ek kan nie glo dat ek nooit die woord "wireless" raakgesien het nie, maar ek weet hoekom.  Ek het gedink dat dit tog nie so eenvoudig kan wees nie, want rekenaars moet mos complicated wees.  Ek het selfs onder die battery gaan soek aan die agterkant van die rekenaar vir die antwoord. 

Net om te besef dat dit nie HP of die skootbedeksel is wat gekompliseerd is nie, dit wat vir aanname en ingesteldheid.  Want sien, hoe kwater 'n mens mos is, en hoe meer frustrasies jy het, sien jy nie die reenboog nie, maar net rooi.  Dalk is die antwoord vir ons lewens en vooruitgang om net rustig te word en te kyk en te observeer.  Soms dink ons dat jy komplekse redenasies moet voer om by antwoorde uit te kom.  Ek dink, as ek dalk net effens rustiger was, sou ek kon konsentreer en die voor die hand liggende oplossing gevind het.

Iemand het een keer gese dat, hoe minder jy van iets weet, hoe meer kompleks probeer jy dit maak, terwyl mense wat werklik oor 'n onderwerp weet, jy dit maklik vind en maklik maak.  Vandag besef ek net dat ons dinge in die lewe so kompliseer dat ons wil mal word daarvan.  Ons analiseer alles tot by die prop van die rekenaar en Eskom, terwyl die antwoorde vir die lewe redelik eenvoudig is. 

Ek weet nie wat in jou lewe gebeur nie.  Ek vestaan nie jou trauma en depressie nie.  Ek is nie daar waar jou tekkie die teer tref nie.  Dit maak nie saak nie, wat wel saakmaak is dat jy dalk net dieselfde moet doen as my ervaring met die rekenaar.  Dalk moet jy verstaan dat die antwoord vir jou lewe moontlik reg voor jou is.  Moenie jouself SO kasty om ALTYD op die moeilike plekke die antwoorde in lang Harvard Studies te gaan soek nie.  Soms is die antwoord in die woord van 'n kind, reg voor jou en in jouself.  Dalk is dit die les wat ek vandag moet leer, en die tweede wat hiermee gelykstaan is, geen krisis kan teen spoed opgelos word nie.  Soos jou swaai in gholf, "slow it down to a blurr", want teen spoed mis jy dalk al die wonderlike en mooi dinge langs die pad wat die ou wat stap raaksien.

Op hierdie langnaweek, word rustig en stil.  Gaan sit onder 'n boom en kyk vir jou man of jou vrou, vir jou kinders en jou hond wat vir 'n takkie grom.  Word bewus van die suikerbekkie wat op die tak bo jou kom sit.  Wees nie net noodwendig "danbaar" nie, maar word net bewus van wie jy is en waarvan jy deel is.  Dis nie noodwendig jou erfenis waar jy vandaan kom nie, maar dit kan beslis jou hier en nou betekenisvol maak.  Die antwoord vir die vraag na die sin van die lewe is dalk lewensgroot voor jou geskryf, sien dit raak en maak dit jou eie.

Soos jou ma altyd vir jou gese het:  "Maak oop jou oe"!