Wednesday, August 24, 2011

Omvorming

Ek het ‘n vriendin op Universiteit gehad wat ‘n studie gedoen het oor “leuses”. Uitsprake wat lande, skole en mense maak. Die konklusie van haar studie was dat mense in hierdie uitsprake nie werklik eerlik is met wie hulle is of was nie, maar eerder ‘n standpunt gestel het oor hoe hulle graag WIL wees, WIL dink en WIL doen. Dit is eerder ‘n refleksie van die idée wat hulle in die spieel WIL sien, wat soms die teenoorgestelde is van wat hulle nou WEL sien. Dit is ook ‘n rookskerm wat hulle vir jou voorhou oor wat hulle graag wil he wat jy van hulle moet dink.

Louise Hay skryf in haar boeke dat die rede hoekom mense dit doen, moontlik kan wees dat alles wat ons doen gebore is uit skuld en vrees. Dit lei nie net tot emosionele problem nie, maar fisiese siektes. Enige siekte is gebore daaruit. Siektes kom van maskers.

Ek was die laaste ruk gekonfronteer met situasies waar ek presies dit gesien het. Mense wat gryp in hulle lewens na allerhande dinge wat werklik nie belangrik is nie, as rookskerms om by selfverwesenlikking uit te kom. Mense wat een ding doen, wat hulle weet nie is wie hulle werklik is nie, om sodoende by ‘n doelwit uit te kom wat hulle dink hulle wil bereik. Ons gebruik allerhande maskers, en het die idée dat die ander met hulle maskers saam met ons by die doelwit gaan uitkom.

In Afrikaans gebruik ons die spreekwoord: “Dit is soos 2 blindes wat mekaar lei”. Die problem van is dat die rekkie wat die masker vashou op ‘n stadium gaan slap word, en jy jou werklike gesig gaan en sal moet wys.

Hierdie begin weer ‘n totaal nuwe kringloop van skuld en vrees, wat weer, om dit te verskans ander maskers ontwerp om dit weer weg te
steek.

Gregory House in sy reeks HOUSE, se: “Everybody lies, the question is just about what?” Dit is die rede vir die wereld waarin ons vandag leef, waar niemand is wat hulle werklik is nie, nie net omdat hulle skaam is nie, maar soms omdat hulle nie weet wie hulleself is nie. Ons loop elke dag draaie weereens rondom die Bybel en ander boeke wat ons soveel riglyne gee van praktiese toepassings gee wat ons kan doen, en al wat ons doen, ons haal dit aan en dit word weer vir ons ‘n masker.

Ons kies dus die masker wat in ons en in ander die leuen-lewe die beste pas. Hoeveel mense het al in die aanhalings en dinge in die Bybel en selfhelpboeke toegepas in hulle lewens? Hoe het die tekkie al die teer getref in mense se lewens? Ons dra almal maskers omdat ons nie weet wie ons is nie, en nie weet dat werklike geluk eers kan kom wanneer die waarheid ons vrymaak nie. En geen wonder dat mense se ongeluk sneeubal nie, want solank ons nie ons werklike self word en die werklike waarheid erken en leef nie, is en sal ons nooit werklik gelukkig wees nie.

Waar lê die waarheid dan? Die Bybel stel dit dat ons eers die koningkryk van God moet soek, en al die ander dinge sal ons toegevoeg word. Maar tot toevoeging daartoe is Romeine 2: “Moenie aan die wereld om jou gelyk word en doen wat almal doen nie, maar laat God toe om jou te omvorm. Dan sal jy kan onderskei oor wat God se wil vir jou lewe is, wat reg, goed en volmaak is”.

Op Universiteit het ek in die teologieklas met my professor gestry oor sy aanmerking dat die oplossing van alle probleme by ‘n verhouding met God begin.

Nou, later in my lewe en my ervarings besef ek dit van myself en die mense om my. Hier praat ek van die werklike God. Dit hang hier af van watter God jy gaan kies, want die Bybel vertel ons ook dat daar ander gode is wat ons kies, maar daardie gode het nie die mag tot omvorming nie, hulle het net die mag van konsekwensies en erger probleme in ons lewens. Net die werklike God kan skep en herskep. Net die werklike God kan die maskers onnodig maak. Net die werklike God kan die skuld en oordeel wat jy en ander oor jou bring vergewe en jou toelaat om die mens te wees wat Hy jou gemaak het om te wees. Net hierdie God kan jou werklik omvorm.

Iemand het gister op facebook genoem dat ‘n ou moet “Let Go, and Let God”. Iemand vra toe vanoggend hoekom dit so moeilik is. Ons moet weet dat dit eenvoudiger is as wat ons dink, want die antwoord le nie in die kies van nog ‘n masker nie, maar om op jou eie, in jouself oor te gee. Dit is omdat ons nie oorgee aan God nie, maar weereens oorgee aan ons gewoonte om te bestuur en self god te probeer wees en te dink dat ander ons gode is en dat hull eons gaan red. Dit is nou een van daardie aanhalings wat nooit gaan werk nie.

As die mense en die dinge in jou lewe altyd tot dieselfde konsekwensies lei, miskien is dit werklik tyd dat jy die beheer van jou lewe oorgee aan God en aan God se genade en God werklik toelaat om jou te vorm soos Hy jou alleen kan en wil vorm. Miskien moet die praatjies ophou en die filosofiee en aanhalings wat ons elkgeval nie doen nie, en in stille meditasie onsself aan God oorgee, en fokus op dit wat werklik belangrik is.

Dan sal en alleen dan sal jou lewe in plek val! God se wens vir jou vandag!

Tuesday, August 2, 2011

Sê wie?

Ek hoor weer die naweek die storie van die ou boer en sy seun wat op die stoep sit en kyk hoe lekker die reen uitsak oor die lande. “Sjoe, pa, lyk na genoeg reen vir die oes, nou is ons bekommernis verby.” “Nee wag,” sê sy pa terwyl hy na ‘n straaltjie son kyk wat deur die wolke breek. “Sien jy, seun, daar kom die droogte weer!”

Selfs in die eerste hoofstuk van die Bybel sien ons dat daar ooglopend 2 pole in enige redenasie is. God skep die goed uit die warboel. God skep goed, en daarmee die paradys waar alles fantasties is. Sommer onmiddelik daarna leer ons van die boom van kennis van goed en kwaad en dat daar skielik spanning ontstaan tussen goed en sleg. God se goeie kant en die Bose se slegte kant.

Deur die natuur sien ons dat selfs in die kleinste molekule, daar ‘n positiewe en negatiewe pool is. Droogte en reen, kos en hongersnood, vet en maer, lelik en mooi, winter en somer, lewe en dood.

Dit voel asof jy op ‘n skeidregterstoel sit en kyk na ‘n tenniswedstryd en hoe daar eintlik elke dag en oomblik ‘n besluit gefel word oor wie hierdie punt wen. Heen en weer, dan die goeie en dan die slegte.

My fokus hier is nie die redenasie oor die bestaan van die 2 pole nie, maar ons ingesteldheid dat ons of permanent in die negatiewe leef, of dat ons die hele tyd, te midde van watter omstandighede, die slegte verwag. Dit is asof die gesamentlike bewussyn van die wêreld ons nou so geprogrammeer het. Dit laat my dus wonder hoekom dit nie met mense goed gaan nie, want ek glo tog dat wat jy glo waar word. Of dit nou die universum is wat dit na jou toe laat kom, of sommer net in praktyk dat my denke eenvoudig my aksies rig.

Om dit te illustreer, sit ek nou die aand saam met ‘n klomp vriende. Die een vrou is sommer baie opgewonde oor haar verhouding en totaal verlief. Die ander mense aan die tafel begin onmiddelik om die gevaarligte vir haar aan te skakel. Die een dink dat die ou met wie sy die verhouding het getroud is, die ander dink weer dat sy gemanipuleer word. So hou die gesprek aan en aan. Wie het gesê dat alle mense sleg is? Wie het gesê dat alle mans sleg is? Wie het gesê liefde is gevaarlik? Wie het gesê dat verhoudings nie werk nie?

Jy sien, mense dra hulle ondervindings met hulle saam, elke liewe dag. As my ingesteldheid (natuurlik deur ondervinding en geskiedenis) is dat alle mans sleg is en dat jy gaan seerkry, sal enige mens ooit in ‘n verhouding met iemand anders tree? As hulle dit wel doen, sal daardie persoon ooit ‘n sukses van hulle verhouding maak? Wie het gesê dat verhoudings moeilik is of moet wees?

‘n Vriend van my is besig met sy studies in Homeopatie. Hy is baie ingestel daarop dat ons as vriende gesonder moet leef. Een dag by sy huis toets hy die suur in my sisteem, aangesien almal weet dat die slegte siektes soos die kankers hulle tentakels in jou inkry en jou dood kan veroorsaak as jou sisteem te suur is.

Om negatief belaai te wees en altyd die slegte te verwag, lei daartoe dat my hele sisteem so “besuur” is dat al die slegte dinge in die lewe wel my gaan aanval. As ek die hele tyd ingestel is op redes van hoekom ek nie mag lief wees nie, raai wat, dan sal ek nie liefde vind nie. As ek altyd die slegte verwag, gaan dit gebeur met my. As ek altyd die aaklige in mense raaksien, gaan hulle dit vir my openbaar.

As jy kinders het, verstaan jy die alternatief baie mooi. Ons weet almal dat kinders net kan funksioneer waar daar liefde en deernis is. My kinders is die wonderlikste geskenke wat ek van God gekry het, en my wens vir hulle was altyd dat niemand ooit hulle lag by hulle sal steel nie. En ek glo met my hele wese, dat dit nie die negatiewe omstandighede is wat hulle lag gaan steel nie, maar eerder gaan hulle lag gesteel word die oomblik wat hulle gaan inkoop in hierdie negatief belaaide wêreld en nie meer gaan glo in die mooi, die wonderlike en die drome nie. Die oomblik wat iemand begin om vir hulle die realiteit te skets dat daar nie ‘n kersvader of tandemuis is nie. Wie het gesê?

Die oomblik wat jy in hierdie sypaadjie psigologie inkoop en dit jou eie maak, kan jy net so wel die deure van jou huis toemaak, want dan het jou lewe tot ‘n einde gekom, en dan word jy net ‘n suurstofdief.

Jy kan my nou ook vanuit jou perspektief afmaak as ‘n onrealistiese dromer wat nie in die regte wêreld leef nie. Die skuldkrisis in Amerika die laaste paar dae het my net laat besef dat “realiste” in ‘n droomwêreld leef. Net omdat iets tasbaar is, beteken nie dat dit so is nie.

Ek is dalk ‘n dromer, maar as ek elke dag my lewe laat beheers en beheer teen die negatiewe wat dalk kan gebeur, sou ek lankal reeds my verstand verloor het. En as ek al hierdie “urban legends” geglo het, sou ek dalk ook soos almal gedink en gedoen het. Luister na die dinge wat ons uiter: “Mense kan nie verander nie, wat opgaan moet afkom, dit is net ‘n kwessie van tyd, goeie tye is nie permanent nie”. Sê wie?

Ons is so besig elke dag met “parental guidance” op ons DSTV omdat ons nie wil he dat ons kinders beinvloed moet word nie, maar in ons lewens, ons woorde en ons denke beinvloed ons hulle 10 keer meer as die seks en geweld op televisie. Ek gaan nie eers vir jou vra om te gaan kyk wat jy dink nie, gaan kyk net wat jy glo. Glo jy dat alles moontlik is? Glo jy in die mooi? Glo jy in die lekker?

Natuurlik is daar omstandighede wat prakties in jou lewe ‘n invloed het, maar wat doen jy daarmee? Natuurlik het ons almal seergekry in verhoudings, maar hoekom laat jy toe dat die seerkry van daardie geval jou keer om nou in ‘n verhouding te wees? Natuurlik het iemand ons teleurgestel, maar beteken dit dat ek van daardie oomblik af niemand meer vertrou nie?

Ons maak so maklik mense wat “dromers” is en in positief is en glo af as onrealisties. “Jy sal nog afkom aarde toe” sê ons maklik. Wie het dit gesê, en hoekom is dit nou skielik die waarheid? “Alle goeie dinge kom tot ‘n einde!” Wie het gesê dat dit so moet werk? “Die lewe is hard en moeilik” Wie het dit gesê?

Jy weet wat, in jou lewe sal alle goeie dinge tot ‘n einde kom, want met hierdie tipe ingesteldheid sien jy die mooi en die positiewe net as tydelik. Ek het ‘n vriend wat altyd glimlag. Een van die dinge wat hy glo is dat hy permanent op vakansie is, maar 11 maande van die jaar net gou vinnig gaan werk om vir sy 12 maande vakansie te betaal.

Gisteraand sit ek saam met iemand wat ‘n filmmaker is. Weet jy hoe lekker dit is om met mense om jou te praat wat nog droom? Mense om jou te sien wat glo dat alles moontlik is? Mense wat gedryf word deur hulle drome en ideale en geloof en wat nie die praktiese situasie miskyk nie, maar dit oorbrug omdat hulle drome groter is as die realiteit.

Daar is honderde stories van suksesvolle besighede waar mense deur hulle geloof en droom gestuur is van bakboord na stuurboord, mense vir hulle vertel het hoe onrealisties dit is en dat dit nooit sal werk nie. En as dit werk, gebruik ons die woord “ongelooflik”. Wat het van jou droom geword? Het jy ingekoop in die nonsens? Het jy toegelaat dat jou vlerke geknip word?

Mense sê so maklik dat ons moet swaarkry, want anders sal ons nie die lesse leer wat ons moet leer nie. Natuurlik sal jy met hierdie mentaliteit swaarkry moet skep, want jy het mos nou gesê dat jy nie kan lesse leer uit goeie en gelukkige omstandighede nie. Wie het gesê dat dit so is? Ek het dan nou net vertel van die filmmaker wat my gister, oor ‘n glasie wyn en ontspanning, ‘n les geleer het vir my lewe. Ek het geleer uit lekker!

Hierdie negatief belaaide denke van ons sny so diep dat ons dit soms nie meer agterkom nie. Kyk net na die manier hoe ons kinders grootmaak. Ons leer vir hulle hoe om nie te leef nie. In plaas daarvan om vir hulle te wys hoe om die bordjie te dra met die muffin in en mooi met twee handjies vas te hou, stadig te loop, te kyk vir die bordjie, sê ons eerder, pasop vir dit, nee jy is nog te klein, moet nou nie dit nie, laat ek dit eerder doen want jy gaan mors.

Ons programeer negatief!

As hulle nou die bordjie laat val, sien jy nou, ek het geweet jy gaan dit laat val! Skep ons spanning en drama, omdat ons glo dat ons eerder met dit vir hulle rigting gaan gee. “Buig die boompie terwyl hy jonk is”. Sjoe, en dan gee ons die televisie en die skoolsisteem die skuld vir dinge.

Jy sien, wat jy koop, word gestoor in jou gedagtes. Dit is meer van ‘n realiteit as die ekonomie en kredietwet. En net omdat iemand nie dieselfde koop as jy en die wêreld om jou nie, beteken nie dat daar met hulle fout is nie. Die realiteit het net soveel krake in as die drome.

Die voorbeeld van geloof in Christus is hier baie relevant. Vanuit ‘n “realistiese” oogpunt is die opstanding van die dood onmoontlik. Dit is slegs moontlik vanuit geloof en om in geloof te leef. Maak dit daarvan minder waar as die sleutels onder my vingers? Miskien is hierdie presies die rede hoekom jy die mense om jou nie kan inspireer om te glo nie! Op dieselfde wyse val mense se geloof ineen omdat hulle dink dat as Jona nie fisies in die vis was nie, die Bybel nie waar is nie en daar geen boodskap gehaal kan word uit die verhaal nie.

Die verskil tussen kinders en grootmense is dat ons kinders in die plassie water in die pad gaan spring en die grootmense gaan keer dat die kinders in die plassie water spring. Vandag wil ek in die plassies speel en dankbaar wees vir die potholes wat my kans gee om in die water te speel!

Wat gaan jy vandag koop?

Gaan jy toelaat dat jou vlerke vandag geknip word?

Gaan jy na alles om jou kyk en bietjie leer om te sê: “Sê wie?”

Monday, August 1, 2011

Tien Gebooie

Kom EK help jou vandag. Jy sien, dalk kyk jy verkeerd na die lewe om jou. EK wil graag sien dat jy na jouself en die lewe kyk soos EK na jou en almal om jou kyk.

EK is DIE God, jy ken MY en het gesien hoeveel wonderlike dinge EK vir jou al gegee en gedoen het. EK wil nie he dat jy moet voel asof jy MY nou iets skuld nie, EK het dit vir JOU gegee sonder dat jy dit verdien. EK het vir jou vrye wil gegee, en jy kan ook besluit om MY nie eerste te stel nie, maar omdat jy vir My spesiaal is, wil ek graag he dat jy MY moet kies om saam mee te lewe. EK weet dit is nie altyd maklik nie, want die mense en wêreld rondom jou gee nie altyd plek vir so ‘n verhouding met MY nie, maar EK wil nie he jy moet sukkel nie, en daarom maak EK dit eintlik maklik vir jou.

Kom EK verduidelik vir jou hoekom julle so sukkel.

Daar gaan baie dinge rondom jou wees wat jy gaan dink belangriker as Ek en jy is. Jy gaan partykeer dink dat jy mense en beelde en idees belangriker moet maak om suksesvol te kan wees in die lewe. Jy spandeer soveel tyd om die wiel weer uit te vind. Hierdie dinge gaan jou verhouding met My laat skade ly. Al hierdie ander dinge gaan jou probeer oortuig dat hulle belangriker is en beter is vir jou. Onthou, dat Ek alles kan doen, en dat alles anders onder MY en My beheer is. So, moenie hierdie onbelangrike dinge tot gode maak nie, jy het mos klaar vir MY gekies. EK gaan nie baie gelukkig wees as jy hierdie ander dinge dien en belangriker maak as EK nie, want dan gaan jy ONS afskeep, en dit is nie goed vir jou nie. Dit is ook so ‘n bietjie disrespekvol teenoor MY, want as jy ander dinge gelykstel aan MY, misken jy MY en maak asof ek nie DIE God is nie. Dalk is dit hoekom jy nie mense inspireer om in MY te glo nie, want jy dink nie meer so baie van MY soos jy moet nie. Jy het mos nou al gesien hoeveel keer die dinge nie vir jou gewerk het nie en jou in die moeilikheid gebring het. Alles wat jy kies het gevolge, en as jy hierdie ander gode kies, het die implikasies vir die wêreld, almal om jou en ook jou kinders. So, as jy vandag en elke oomblik van jou lewe reg kies, sal jou lewe goed wees en sneeubal vir selfs almal wat jare na jou gaan gebore word.

EK praat en tree altyd mooi op as dit oor jou gaan. EK beskerm jou en jou naam orals, selfs by mense wat nie van jou hou nie. Daarom wil ek hê dat jy MY ook so moet beskerm. As iemand sleg van my praat, moenie saam praat nie, maar beskerm MY eer voor hulle. Wys ook vir mense in jou hele lewe dat EK en jy ‘n verhouding het, en praat altyd mooi van MY.

Erens in hierdie besige wêreld van jou, maak tyd vir ONS. Ek keer jou nie om al die dinge te doen wat vir jou lekker en belangrik is nie, maar geen verhouding kan werk as ons nie spesiale tyd met mekaar maak nie. Dit is ook goed vir jou, om net soos EK gemaak het, erens net bietjie te stop, te rus en weer te fokus van al die geraas rondom jou. As dit vir MY gewerk het met die skepping, hoeveel te meer het jy nie nodig om ook rustig en stil te word saam met MY nie. Dit gaan jou ook so ‘n kansie gee om te dink oor wat jy mee besig is.

Kyk met watter respek hanteer EK mense om jou, EK laat selfs plek en sukses toe, selfs al glo mense nie in MY nie. EK is lief vir almal, en so moet jy ook wees met alles en almal rondom jou. Weet dat mense nie altyd beplan om lelik met jou te wees nie. Daarom moet jy, omdat almal MY kinders is, met mense om jou mooi wees, al stem hulle nie saam met jou nie. Onthou, net soos jy, probeer mense almal hulle bes. Jou pappa en mamma doen ook maar wat hulle kan, en gee baie vir jou. EK het hulle vir JOU gekies, omdat ek gedink het dat hulle waardig is om hierdie klein bondeltjie kind van MY groot te maak. As ek hulle gekies het vir JOU, hoekom sal jy dan nou beter wil weet. EK weet dat hulle nie altyd die regte dinge doen nie, maar hulle probeer. EK het baie dinge saam met hulle deurgemaak, en EK weet hulle sal alles vir JOU doen.

Al die ander mense om jou is vir MY belangrik. Moet nie lelik praat oor MY kinders om jou nie (al praat hulle lelik van jou), moet hulle nie seermaak nie (al maak hulle jou seer), Moenie skinder nie (al skinder mense oor jou), Moenie hulle seermaak deur hulle goeters vir jou te vat nie (al vat hulle jou goeters), Moenie dinge sê wat nie so is nie (selfs nie eers ‘n wit leuentjie nie). As jy ‘n leuen vertel, leef jy ‘n leuen en krap jy die hele balans van die lewe om en skep ‘n lewe wat nie eg is nie.

Onthou die wêreld gaan nie net oor JOU nie, maar oor MY. Moenie dink dat EK ander mense meer liefhet as vir JOU net omdat hulle dalk iets mooier het as jy nie of iets kan doen wat jy nie kan nie. EK gee vir elkeen ietsie besonders. EK kies om vir JOU te gee wat EK dink goed is, moenie dan my geskenkies in die kas bere en wens dat EK eerder vir JOU gegee het wat EK vir ander gegee het nie. EK het alles in jou lewe SPESIAAL vir JOU uitgesoek, en omdat jy MY liefhet, vertrou MY. EK het stukkies van MYSELF afgebreek en vir jou saamgegee om hierdie wonderlike lewe te gaan ervaar, saam met MY. Gaan leef jou eie lewe, en moenie in ondankbaarheid die hele tyd wens dat jou lewe anders was nie, glo MY, jou lewe is PERFEK, jy het ALLES en EK is by jou.

Hierdie dinge sê EK omdat ek jou liefhet en die beste vir jou soek. Dit is nie moeilik nie, lag en spring en speel saam met MY. EK is lief vir JOU!!

Friday, July 29, 2011

Resessie Lewe

Ek sit nou gister in een van daardie heerlike sessies oor die ekonomie. Oulike grafieke met strepe en mooi prentjies en spekulasie galore. Jy sien, die ekonomie werk mos nou so:

Elke land het mense. Die mense werk vir maatskappye en produseer produkte. Hierdie maatskappye en mense verkoop hierdie produkte aan mense, en met die salarisse wat hulle verdien koop hulle nou weer op hulle beurt produkte. Nie net in hulle eie land nie, maar hulle voer ook hulle produkte uit en verkoop dit aan ander lande, en voer produkte in wat hulle by produsente uit ander lande koop.

Omdat mense nou nog meer geld wil maak, verkoop hulle ook aandele in hulle produserende maatskappye aan mense op die aandelebeurs. Hoe meer in aanvraag produkte is, hoe meer wins kan ek maak op my produk, en die teenoorgestelde is ook waar.

Wat hierdie nou ‘n vreeslike oulike speletjie maak, is dat dit is soos klein kindertjies wat op ‘n slim manier “raai-raai-riepa” speel. Hierdie sessies in die ekonomie wil vir ons ‘n kykie in die glasbal van die toekoms gee, en ‘n aanduiding wees van watter tipe besluite ons moet neem met produkte en in watter maatskappye en lande ons moet bele, en hoekom!

Hierdie analiste probeer met data en feite uit die verlede die tendense monitor. Die grafieke wat ons trek probeer 2 dinge doen, eerstens natuurlik vir ons wys op die kort- en langtermyn in watter rigting hierdie tendens loop, op of af. Tweedens probeer dit vir ons die interafhanklikheid van 2 sake op een grafiek wys, bv. Die goudprys en die rand op een grafiek. Dit noem ons die tegniese analise in die ekonomie.

Wat ons dan ook doen is om sekere dinge na te kyk soos werkloosheid (want as mense nie werk het nie, het hulle nie geld nie en kan hulle nie produkte koop nie), politieke situasies (uitsprake van politici oor wat hulle planne met myne is) en sosio-ekonomiese aksies (soos Chinese wat nou meer geld verdien en uit statistiek nou meer luukste artikels koop).
Dit laat my toe nou dink daaraan dat ek dink die lewe ook so werk. Elkeen van ons is ‘n maatskappy op ons eie met ons eie grafieke. Ons het elkeen ‘n waarde en ons glo dat hierdie waarde iets is waarin ek en die mense om my graag in sal bele, nie noodwendig met geld nie, maar met tyd en energie en met liefde. Ons het ook ‘n Prys-Verdienste syfer en ons is ook maar baie keer in kompetisie met die mense om ons vir beleggings in ons.

Ons is dus as ‘n “produk” of “maatskappy” in kompetisie in die mark rondom ons vir werk en aandag. Ons is natuurlik ook interafhanklik van ander tendense in die wereld rondom ons. ‘n Jong maatskappy het baie kere nie soveel ondervinding nie, en ons verwagtinge is dat hierdie maatskappy hulleself nog nie bewys het nie, maar ons vat soms ‘n risiko met hulle. Ouer maatskappye het weer die uitdaging dat hulle geykte idees het, en produkte het wat nie meer so in aanvraag is soos die jonger IT maatskappye nie.

Toe sit ek daar ook en wonder hoe my grafiek sou lyk. Ek het in my 20’s met vreeslik baie durf en motivering weggespring en my drome nagejaag, maar intussen het baie resessies en issues my getref wat redelike afwaartse kurwes tot gevolg gehad het. Tye waarin ek nie dink mense sommer aandele in my sou koop nie. Daar was ook natuurlik ‘n verandering in die sosio-ekonomiese situasie waarin ek moes leef, en daar was ook ‘n verandering in personeel en direksie gewees. Elke verandering in die direksie, het ook die rigting van my maatskappy verander. Daar het natuurlik ook ‘n paar “laste” bygekom, en soms ook ‘n klomp “bates” wat ek verloor het. My inkomse en uitgawestaat het ook nie altyd so bestending voorgekom nie, die uitgawekant het baie gegroei, terwyl ek net soos enige maatskappy sukkel om die inkomste op te skuif.

Ek het ook probeer om nuwe produkte te ontwikkel, ure en maande en jare daaraan spandeer, om daaruit ook ‘n verlies te maak. Ek het ook in verskillende vennootskappe deelgeneem, sekeres wat tot voordeel van my maatskappy was, en ander wat nie was nie.

Daar is ook in my lewe ‘n paar “resessies” gewees wat my grafiek beinvloed het. Die vraag is egter nou in my lewe: “In watter rigting is die oorhoofse groei oor die afgelope 40 jaar?” Is daar ‘n opwaartse of ‘n afwaartse kurwe? Ek praat nie hier van die klein dippies in winsgewendheid en produktiwiteit nie, maar oor die algemeen oor die langer tendens in myself.

Daar is natuurlik ook iets anders wat ‘n rol speel, en dit is presies dieselfde as in Amerika nou waar die regering oorhoofs ingespring het om die omstandighede rondom ons so te bestuur en te beheer met rentekoerse, wat dit weer moontlik maak vir maatskappye om winsgewend te word. Op dieselfde wyse is daar ook ingrype in ons lewens wat ons regop hou, soos ook onder andere ouers, vriende en natuurlik die grootste van alles God.
Een belangrike ekonomiese tendens wat mense ook na kyk is die sentiment van die verbruiker. Het mense weer hoop? Is mense nou weer lus om te droom en ideale te he? Dit is een van die grootste tendense wat ‘n mens kan he in die ekonomie, mense wat hoop het. Is daar ‘n toekoms? Dit is hoekom die ekonomiese resessie so ‘n invloed in mense se lewens het, want mense kan nie ‘n toekoms sien nie, mense weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, en oor die algemeen dink mense dat dinge nie beter gaan word nie.

Maar, terwyl al hierdie dinge gebeur en ons ge-analiseer en geweeg word, gaan die lewe voort. Elkeen op sy eie kluit, en elkeen op sy eie manier. En een ding is soos ‘n paal bo water, en dit is dat dit nie saakmaak hoe ander jou sien nie, en selfs ook nie hoe jy jouself sien nie. Hoe groot jou maatskappy is of hoe bankkrot jy is nie, of iemand jou produk koop en aandele wil besit, of jy ‘n enorme groot gebou is, of ‘n straatverkoper, suksesvol of ‘n mislukking is of voel, ‘n Armani pak aanhet, of sommer met jou “stokies” rondloop nie – die een ding wat altyd vir ons hoop gee, die een “persoon” wat enige tyd al ons aandele sal koop en al my produk sal opraap, vir wie my kurwe op die grafiek niks beteken nie, vir wie my balansstaat en inkomste en uitgawestaat nie saakmaak nie, is die almagtige God!

Dit is die enigste hoop waarop ek my fokus kan stel, en deur Sy oe wat ons na die mense rondom ons moet kyk en in besonder na onsself!!!!

Monday, July 18, 2011

Die donkie in ons

Die afsterwe van Al Debbo, het my laat dink aan die liedjie: "Die donkie is n wonderlike ding".

Een van die spreekwoorde oor n donkie is dat alhoewel n donkie stuurs en soms dom voorkom, n donkie sy kop net een keer stamp.

Ek kyk na my lewe en die lewe van almal om my en sien hoe ons patrone, wat ons soveel keer al gesien het nie werk nie, herhaal, en dan verbaas is as die uitkoms dieselfde is.

In ons doen en late skep ons patrone van optrede. Ons reageer op impulse met dieselfde aksies. Einstein het gese dat die toppunt van "stupidity" juis dit is. So moet ons dus ooreenstem dat ons nie veel beter is as donkies nie, en elke keer ons koppe stamp.

As jy nou mense obserweer, en jy gee hulle raad, wys mense hulle "intellektuele gestremdheid" verder deur verskonings te maak. "Ek kan nie my persoonlikheid verander nie", is een van die verskonings.

Met hierdie optrede gaan jy in jou lewe geen vordering maak nie. Die rede hiervoor is wat die denker Osho so mooi opsom: "If you rationalize the bad things in life, you accept it to be fine, and thereby it will surely happen to you again".

Watter deel van jou is persoonlikheid, aksie of reaksie op impulse? Daar is niks in jou lewe wat jy nie kan verander nie. Die laaste maatskappy wat ossewaens gemaak het, het die stanpunt gehuldig dat hulle vir geslagte al dit doen, en dat mense altyd ossewaens gaan wil koop, want dit is in ons bloed.

Ek weet nie wie dit gese het nie, maar n ander aanhaling is: "in times of change, the stupbourn will find themselves beautifully equipped for a world that no longer exist".

Veral ook in Suid-Afrika vind ons dit dat daar aan soveel kante mense is wat vasval by soveel vaste ou idees, en nie oop is vir die nuwe denke van die konteks om hulle nie. So marginaliseer hulle hulleself en word uitgewerk. Die enigste mense wat hulle volg is die wat net so blind is vir die veranderinge om hulle en ook nie kan aanpas nie.

In die wereld van die individu waarin ons ons bevind, sien ons dit al meer. Niemand is groter as die wereld of die mens langs hom of haar nie. Miskien is dit die rede vir die mislukking van soveel verhoudings, waar mense net eenvoudig nie wil verander nie.

Die Bybel stel dit duidelik dat jy jou naaste moet liefhe soos jouself. Dit kan nie net oor jou gaan nie, en ook nie net oor ander nie, maar in balans.

As jy dus wil funksioneer en suksesse wil maak van die lewe om jou, wees gefokus op wat werk nou en wat nie werk nie.

As iets nie werk nie, hou op om alles en almal en die konteks te blammeer en te wag totdat die omstandighede dalk eendag gaan aanpas by wie jy is, of te soek na iemand wat by jou denke inpas. Dalk le die antwoord daarin dat jy jou aksies en optrede wat jy weet nie werk nie moet uitdaag, vermy en moet verander om 'n gelukkiger mens te wees en te word.

Hou op om verskonings te maak vir jou onsuksesvolheid, verander dit. Dink jy Thomas Edison het met die eerste probeerslag die gloeilamp ontwikkel. Ek dink dit het ure se frustrasies geneem en baie eksperimente.

So, dink ek, al jy jou lewe wil "invent" en werklik gelukkig wil wees, moet jy bereid wees om met deursettingsvermoe en "trial and error" te probeer, totdat dit werk. Dit is beter as om dieselde eerste nie-werkende prototipe oor en oor te bou, en dan in ongeloof toe te kyk as dit nie werk nie.

Die lewe en geluk is n reis waarin jy baie ompaaie moet loop om by tydelike bestemmings uit te kom.

Verander die uitkoms van jou lewe, en wees bereid om jou lewe te omvorm deur op te let, te fokus en oop te wees tot die veranderings wat nodig is vir 'n ander uitkoms!

En-En

Jy kan maar net deur jou facebook muur gaan en dan sien jy hoe ons almal soek na die antwoorde van die lewe. Elke dag “graffiti” ons talle aanhalings en ervarings wat maar bewys dat ons soekend is. Dit is veral waar in ‘n wereld soos ons vandag leef. Dit wil voorkom asof die groot skip van sekerheid verruil is vir ‘n klein hangkasdeur, wat ons elke dag met omstandighede meesleur, en wat sukkel om die golwe te kan breek. Asof die resep wat altyd gewerk het nie meer werk nie, en ons soekend is na die een antwoord.

Orals om ons soek die boeke, tydskrifte, Oprah, Dr Phil en almal na die resep en na die antwoord wat jy logies kan navolg om jou lewe sinvol te maak. Wat gebeur is dat ons dan van een resep na die volgende spring, en in ander se skoene en voorbeelde wil leef.

In tydskrifte is daar elke maand ’n ”Hoe om” artikel oor 6 maniere om ’n vrou te vang of 10 oefeninge vir ’n plat magie. Die wereld word in tye vasgevang in die filosofie van boeke soos ”the alchemist” en ”the secret”.

In die 90’s het alle besighede tot vervelens toe strategiese beplannings opgestel met missie, visie en aksieplanne. In persoonlike ontwikkeling het daar baie boeke ontstaan om jou te laat dink oor waar jy met jou lewe wil wees oor 5 jaar of wat jy op jou grafsteen wil sien. Dit alles net om nou na ’n paar jaar te sien dat ons onsself baie goed geposiosioneer het vir ’n wereld wat nie meer bestaan nie. En dan gebeur daar iets vreemds is dat mense soms, net soos in die ”hoe om” artikels, telkens weer verval in ou patrone, of in nuwe resepte. En een van die probleme is dat ons die dinge elk so verabsoluteer dat ons alles anders saam met die baba by die venster uitgooi. Dalk is dit die logiese wereld van wiskunde wat ons geleer het om so te dink.

Ek het vriende wat ongelooflik kos kan maak. Hulle het almal in hulle koppe presies hoe om ’n potjie te maak, maar hulle weet dat dit oor meer gaan as die resep, die beskikbaarheid van bestandele, die stoof en kultuur. My kos proe nie dieselfde as Jamie Oliver s’n nie, want ek pas digterlike vryheid toe op kosmaak en eksperimenteer oor hoe ek my pot wil maak.

Die logika en resepte is natuurlik goeie hulpmiddels wat ons wereld makliker, hanteerbaar en georganiseerd maak. Maar wanneer ons oor emosies en denke praat is dit nie altyd so maklik nie. Die probleem is die paradokse wat daar is rondom ons elke dag. ‘n Paradoks is juis dit, dat dit te midde van die logika en resep vir ons die ander kant wys, en ook dat konteks die resep kan buig.

Einstein praat van die paradoks van die tweeling. Die eerste bly op aarde en die ander een snel in die ruimte teen die snelheid van lig. Na ’n klompie jare kom die een in die ruimte terug en wat het gebeur, die een wat op aarde was is ouer, al is hulle ’n tweeling. Dit is vreemd aangesien beide van hulle in effek ewe oud is as ons ons konsep van tyd verabsoluteer. Tyd is dus relatief.

Die ander paradoks is die paradoks van die pyl en boog. As ek ‘n pyl uit ‘n boog skiet, dan sien ons almal hoe hy beweeg en vlieg. Sou ek die vlug van die pyl opbreek in momente, elke moment wat ek die pyl obserweer, dan staan die pyl in die oomblik van obserwasie eintlik stil. Dit is vreemd aangesien dit tog beweeg, maar stilstaan in die oomblik. Beweging is dus relatief.

In Literatuur en taal se Oscar Wilde “I can resist anything, except temptation”. Curry se paradoxks: "If this sentence is true, the world will end in a week”. Nihilistiese paradoks: “If truth does not exist, the statement "truth does not exist" is a truth, thereby proving itself incorrect”. Epicurean paradoks: "The existence of evil seems to be incompatible with the existence of an omnipotent and caring God". Almagtige God paradoks: "Kan ‘n almagtige wese ‘n klip skep wat selfs vir Hom of Haar te swaar is om op te lig?"

In die Bybel lees ons van God wat goed is en dat die onheil deur die ander kant (die duiwel) veroorsaak word. Die tien gebooie leer ons ook dat egbreuk sonde is. 2 Samuel 12:11 – So se die Here: “Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oe neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.”
Ek wil nie graag hier vreeslik oor hierdie paradokse redeneer nie, maar die punt maak dat baie van die resepte van die lewe, dinge wat ons vas in glo en geen beheer oor het nie, relatief kan wees en kan afhang van allerhande dinge soos konteks en sienswyse.

Dit wil voorkom asof ons so geprogrammeer is dat ons ‘n antwoord soek. Die uitdaging is dat die wereld rondom ons elke dag verander, en alhoewel ek standpunte soos geloof en waardes en norme kan huldig, dit tog moeilik word om dit in ‘n wereld te kan toepas. In hoe verre moet ek dit wat ek standvastig in glo die wereld laat verander, en in watter mate moet ek die wereld my laat lei in die maak van my besluite?

In die soeke na die antwoorde hiervan, moet ons natuurlik ook ons konteks verstaan. Omdat ons meestal vanuit ‘n Calvinistiese stelsel grootgemaak is, is dit ons tweede natuur om dinge te kies wat ons onomwonde in glo, en alles wat daarteen indruis te veroordeel.

In die Bybel lees ons die verhaal van Barnabas en Paulus wat saam op ‘n sendingreis gegaan het. Barnabas en Paulus was boesemvriende en het dieselfde passie gedeel vir die verkondiging van Jesus se boodskap aan mense. Barnabas het toe ‘n boodskap gekry dat sy pa oorlede is in Jerusalem, en het besluit om terug te keer na Jerusalem om sy ma te gaan bystaan. Dit was vir Paulus ‘n ongelooflike slag en hy het dadelik Barnabas se geloof in twyfel getrek. Uit sy oogpunt, was niks anders meer belangrik in die wereld nie, net geloof en om te die boodskap van Jesus oor te dra. En hierdie tipe van oordeel is in elkeen van ons, en dit is die gevaar van “resepte”.

Ek kan dink dat jy, die oomblik wat ek die paradokse gelys het, graag daaroor wou redeneer. Ek dink een van die grootste dinge wat ons doen, en dit is uit ons afkoms van oordeel, dat ons nie kan glo dat 2 of meer standpunte wat mekaar weerspreek, op dieselfde oomblik kan bestaan nie. Ons moet mos ‘n konklusie maak, wat is nou reg en wat is verkeerd.
Die lewe is presies soos die pyl uit die boog wat terselfdertyd stilstaan en beweeg. In alles van die lewe vind ons hierdie paradokse. Hoe ek ookal beplan en glo en doen, dinge werk nie altyd uit soos ek dink en wil en glo nie.

Wat dit eintlik beteken is, ek is totaal en al geregtig op my geloof en wat ek wil dink oor die lewe, maar terselfdertyd kan ‘n ander se standpunt ook ‘n plek he, en kan dit dalk my standpunt beinvloed. As Jona nie werklik fisies in die vis was nie, beteken dit dat my hele geloof by die venster uitgegooi word? Natuurlik nie, want die boodskap het geensins verander nie.

Al die moeilike vrae in ons lewens het nie altyd ‘n antwoord nie, veral as dit by spiritualiteit en emosies kom, die sagte issues in die lewe. Salomo het self gese dat hy sekere dinge nie verstaan nie, soos hoe ‘n voël in die lug bly en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou werk. Die realiteit is, dat al verstaan ons nie hoe dinge werk nie, die voël bly steeds in die lug.

So, wanneer dinge in die lewe nie altyd sin maak nie, alles is nie veronderstel om logies volgens ons sin te maak nie. Baie dinge in die die lewe is nie die een antwoord nie, maar ‘n rigtingwyser na iets anders. Alles hoef nie die finale antwoord te wees nie, en 2 logiese teenoorgestelde dinge kan op dieselfde tyd een ruimte okkupeer.

Ek noem dit graag die en-en konsep, teenoor die of-of konsep van hoe ons na die lewe kyk. Dit gaan dus daaroor dat ek mag my opinies en idees huldig, maar ek moet nie alles wat daarvan afwyk oordeel net omdat dit nie dieselfde is nie. Weet en verstaan dat oordeel gevaarlik kan wees, en erken jou eie vooropgestelde resep waarmee jy oordeel met die spieel wat jy dink wat reg is.

Om te dink dat jy reg is is een saak, maar om te dink dat jy die enigste is wat reg is, dit is waar die probleem insluip.

Dink lekker verder daaroor: "En-En teenoor of-of"

Saturday, July 16, 2011

Vergeefse selfkastyding

Dink, wonder, glo
Wat hulle beplan en ookal dink
My uitkoms bou hulle onderstebo
Glo jou oordeel, misnoee en wonder
Oordeel julle gedagtes my minder besonder
Ek, gewillig, getrou beloftevol
Vergeefs tevrede maak probeer
Stille disrespek in enorme sneeubal
Tot die breukpunt van selfkastyding
Van probeer word wat julle my maak
'n stok vind tot daaglikse slae
Altyd byderhand
Net die rantsoene se krummels tuimelend
'n jammerte en liefde tot verstaan
Geensins in 'n hart
Tevergeefse warboel van probeer
So is dit my uitmekaarskeer
Met my God weier ek om sinoniem saam te glo
En te wees en word wat gedagtes my toesnou
Eensame verlange van 'n goddelike siel
Vasgevang in die gevangenis van ander se oog
Groei ek vlerke en vinne wat groei na my innerlike vrede
Om self te red die honger ,dors en pyn
Weereens die son te begroet
Om in my hart en in my siel te skyn
Totdat die pyn verdwyn
En die klok weer vir my hart begin draai
Alle maniere van my probeer
Sal niks die onheil in die oe ooit keer
Selfredding loer in die spieel en hart van n Skepper-God
Wat my weer by waters van rus in Sy arms laat le

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!